Toewyding en Diens

Geloof en Bekering

In die Nuwe-Testamentiese verlossingsleer is daar ʼn sterk verhouding tussen die begrippe “geloof in Christus” en “bekering”. Indien ons waarlik in Christus glo, is bekering uit ons bose en selfsugtige verlede vanselfsprekend. Indien ons sou nalaat om die noue verband tussen hierdie twee aspekte van ons verlossing raak te sien en te erken, loop ons gevaar om die grondbeginsels van ons geestelike lewe te ondermyn en foutief voor te stel. Sulke mense kan weens hulle eensydige denke selfs eindig met net ʼn gedaante van godsaligheid. Geloof in Jesus Christus as Verlosser kan slegs bevestig word deur weg te draai van die geestelike duisternis van sonde af en ons toevlug te neem tot Hóm alleen wat in staat is om ons sonde te vergewe en ons siele te red. Hy is die lig van die wêreld, in Hom is die ewige lewe, en bekering is die wyse waarop ons tot Hom nader om ʼn lid te word van sy geestelike liggaam op aarde (die ware kerk wat uit alle weergebore gelowiges bestaan).

Die basiese doelstelling met die evangelieboodskap is die verkondiging van geloof in Jesus as die beloofde Messias en Verlosser van die wêreld. Om in Hom te glo, impliseer ʼn wegdraai van ons sondes af en vertroue in Hom om ons te vergewe en te red, terwyl ons ons ook verbind aan ʼn voortgesette proses van groei na geestelike volwassenheid. Kom ons kyk kortliks na die geïntegreerde aard van geloof in Christus, die wêreldwye oproep tot bekering, asook die behoefte aan geestelike groei wat noodsaaklik is om ons voor te berei om doeltreffende getuies vir Christus in ʼn vyandige wêreld te wees.

Geloof

ʼn Bybelse geloof is nie ʼn natuurlike vermoë van die menslike brein nie maar ʼn gawe van die Heilige Gees. Dit funksioneer op ʼn geestelike vlak en word slegs deur die Heilige Gees in ʼn persoon gevestig wanneer hy die evangelieboodskap hoor: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom. 10:17). Hou in gedagte dat die Heilige Gees deur die Woord van God werk om die lewe en beloftes van God aan ons te skenk. Jesus het gesê: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh. 6:63).

Wanneer die Heilige Gees sondaars tot bekering roep, oortuig Hy hulle intellektueel sowel as geestelik van hulle sondigheid en verlore toestand, asook van die genade van Christus om hulle sonde te vergewe en aan hulle ʼn nuwe lewe te skenk. Hy bemagtig hulle om geestelik te reageer op die uitnodiging tot redding deur in Christus te glo en Hom as Verlosser aan te neem. Wanneer hulle positief reageer op hierdie oortuigings is hulle hart en verstand eenstemmig, wat beteken dat hulle gereed is om sowel geestelik te glo as verstandelik van hierdie waarhede te getuig met hulle lippe: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom. 10:9-10).

Wanneer die hart van die mens in die geloof na Christus uitreik en die verlossing ten volle op grond van sy soendood en opstanding aanneem, vind daar ʼn geestelike wedergeboorte plaas. Hierdie daad gaan gepaard met ʼn mondelikse belydenis waarin die persoon hom van sy sondige verlede bekeer deur al sy sonde te bely en te laat staan en die genadige vryspraak te aanvaar wat die Verlosser aan hom bied. Wanneer die Here hom regverdig verklaar, word sy gees lewend gemaak terwyl die Heilige Gees ook aan hom verligte oë van die verstand gee om die Here se Woord te kan verstaan en sy lewe in ooreenstemming daarmee in te rig.

Daar is egter ook hoogs misleidende plaasvervangers vir redding waarin die geestelike dimensie nie voldoende beklemtoon word nie. In sulke gevalle spreek die evangelieboodskap (gewoonlik ʼn vereenvoudigde en afgewaterde vorm daarvan) slegs die verstand van ʼn persoon aan. Hy reageer dan daarop deur die historiese feite oor Jesus, sy soendood en liefde vir alle mense, rasioneel te aanvaar. Hy identifiseer dan intellektueel met Jesus as Verlosser en word daarna salig verklaar deur ʼn prediker wat daarop ingestel is om vinnige resultate te verkry. Verstandelike opvattings van hierdie aard word egter nie deur die Heilige Gees gevestig nie en moet dus nie met ʼn Bybelse geloof verwar word nie. Sulke mense is lede van die groot groep nominale “gelowiges” wat slegs Christene in naam is – nie in Gees en in waarheid nie. Hulle nader die Here met hulle mond en menslike rede en eer Hom met hulle lippe, maar hulle harte is ver van Hom af (Matt. 15:8).

Oppervlakkige prediking en kitsevangelisasie wat aanleiding gee tot die lê van valse geestelike fondamente is gewoonlik nie sterk ingestel op mense se sondigheid en verlore toestand nie. Sodoende ontneem hierdie predikers die Heilige Gees die geleentheid om soekende siele van hulle sonde te oortuig en ʼn duidelike bewussyn oor hulle ernstige geestelike nood in hulle harte te vestig (vgl. Joh. 16:8). Hierdie oortuigings moet baie sterk wees voordat ʼn persoon goed voorbereid sal wees om die boodskap van Christus se reddende genade te ontvang. Wanneer hy voor die Here staan as ʼn verlore sondaar wat ten volle die ewige straf verdien, sal hy diep onder die indruk kom van Christus se liefde wat Hom beweeg het om die straf van alle sondaars op Homself te neem en in hulle plek te sterf. Die Heilige Gees stel die verlore sondaar in staat om in Christus te glo en sy hele lewe aan Hom oor te gee.

ʼn Sodanige oorgawe word as bekering beskryf, en neem die vorm aan van die belydenis en aflegging van alle ongeregtighede wat die sondaar van God geskei het: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ʼn onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Kor. 7:10). Bekering wat bevorder word deur Godgewerkte berou is ʼn kenmerk van ware redding. Droefheid volgens die wil van God word deur die Heilige Gees in iemand se hart gevestig en gaan ook met ʼn sterk bewussyn van die persoon se sondigheid gepaard; maar dit verleen ook aan hom die motivering en geestelike vermoë om tot bekering te kom en Christus as Verlosser aan te neem. ʼn Sondaar sal nooit berou hê oor die ervaring waartydens hy die aard en gevolge van sy sondigheid besef het en emosioneel en geestelik platgeslaan is deur sy ellende nie, omdat die Heilige Gees hierdie ondervinding gebruik het om hom tot bekering en redding te lei.

Sondaars wat nie deur die evangelieboodskap gekonfronteer word nie ervaar soms ook bitter berou oor wat hulle gedoen het, maar dit is bloot ʼn vleeslike reaksie. Hulle ly aan selfbejammering en soek na ander mense se vergifnis en vertroosting, en dikwels ook na sielkundige berading om hulle selfsugtige, wettelose en antisosiale gedrag te verander. Die probleem dat hulle verlore sondaars is word nie opgelos nie, daarom lei die vleeslike en wêreldse berou wat hulle het geestelik gesproke tot die dood. Die ongeredde sondaar gaan voort op sy weg en wend hom bloot tot nuttelose humanistiese metodes om sy lewe te probeer verbeter.

Daar is ook ʼn groot aantal sondaars wat inderdaad na Christus as Verlosser gelei word, maar sonder om hulle te konfronteer met hulle sondigheid wat hulle van God skei. Hulle word oortuig dat al wat hulle hoef te doen, is om Christus in die geloof as Verlosser aan te neem sonder om spesifiek aandag te gee aan maniere waardeur hulle sonde deur middel van belydenis en bekering aangespreek kan word. Dit is ʼn gevaarlike geestelike slaggat, omdat dit onbybels is om redding te verkondig sonder bekering en die belydenis van sondes (vgl. 1 Joh. 1:8-9). Hierdie menslikbedinkte weg van verlossing lei slegs tot ʼn verstandelike oorgawe aan Christus sonder om spesifiek die probleem van sonde aan te spreek, en dit lei slegs tot ʼn vorm van eiegeregtigheid wat nie gekenmerk word deur ʼn hart wat deur Goddelike wedergeboorte verander is nie. So ʼn persoon gaan steeds gebuk onder die oorheersing deur sy vlees (die verdorwe menslike natuur) en is dus nie ʼn ware volgeling van Christus nie.

Bekering

Tot dieselfde mate as wat ʼn ware geloof in Christus gedemonstreer word deur bekering, is bekering ook altyd die gevolg van geloof en dus ʼn wesenlike deel van die stap waarin geloof in Christus gestel word. Die Here Jesus het aan sy dissipels gesê: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Bekering en die vergifnis van sondes kan slegs plaasvind wanneer geloof in die gekruisigde en verrese Christus bely word. Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde en stel hulle in staat om in Christus te glo en hulle sondes aan Hom te bely (bekeringsgenade). Dit is die rede waarom die uitvoering van die Groot Opdrag eers kon begin nadat die Heilige Gees uitgestort is.

Op dieselfde wyse word bekering as ʼn sleutelbegrip gebruik wanneer Christus aan die verloregaande wêreld verkondig word: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ʼn dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ʼn Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31). Dit is duidelik dat bekering sonder ʼn definitiewe geloof in Christus nie moontlik is nie. Ons is aanspreeklik teenoor Christus oor wat ons met ons lewens gedoen het, en bekering is die manier waarop ons in die geloof deur Hom met God versoen word.

Paulus se bediening

Daar word dikwels deur ekstreme dispensasionaliste geredeneer dat Paulus redding verkondig het deur geloof alleen, sonder die behoefte aan bekering en die belydenis van sondes. Laasgenoemde is na bewering deel van ʼn Ou-Testamentiese verlossingsleer wat gebaseer is op menslike werke soos bekering, die belydenis van sonde, asook ʼn verbintenis tot wetsonderhouding. Dit is egter ʼn totale wanvoorstelling van Paulus se evangelie van verlossing. Hierdie apostel verbind geloof in Christus aan ʼn geestelike ingesteldheid waarby bekering op ʼn baie besliste wyse ingesluit is.

Paulus verduidelik sy Goddelike mandaat om die nie-Joodse wêreld te evangeliseer deur te sê dat God hom na die heidene gestuur het “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ʼn erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:18). Dit is duidelik dat bekering uit die mag van Satan tot God, ʼn geloofstap is wat tot die vergifnis van sondes lei. Die Tessalonisense word geprys vir hulle “werk van ... geloof” en hierby voeg Paulus: “... en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien” (1 Thess. 1:3, 9).

Geloof en bekering is twee kante van dieselfde muntstuk. Paulus verduidelik aan die Hebreeuse gelowiges dat geloof en bekering die grondslag van hulle geestelike lewe vorm omdat dit die vertrekpunt is van hulle verhouding met Christus. Hy het hulle aangemoedig om aan te hou om geestelik te groei, “sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God” (Heb. 6:1). Kan daar enige duideliker stelling wees oor die verband tussen bekering en geloof? Ware redding sluit bekering uit dooie werke in, sowel as geloof in die Drie-enige God.

Paulus verwys na die boodskap wat hy aan sondaars van alle nasionaliteite verkondig het, “terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus” (Hand. 20:21). Hy het die gemeente in Rome daaraan herinner dat die goedertierenheid van God hulle tot bekering wil lei (vgl. Rom. 2:4).

In die lig van hierdie uitsprake is dit voor die hand liggend dat wanneer Paulus sê dat ons deur geloof gered word sonder werke (Ef. 2:8-9), hy nie die noodsaaklikheid van bekering en die belydenis van sonde ontken nie, maar slegs menslike werke verwerp wat as ʼn grondslag vir redding aangebied word. Ons moet ons vertroue volkome in Christus se verlossingswerk stel. Wanneer ons dit doen, sal ons verlossing verkry wat gegrond is in geloof, Goddelike droefheid oor ons sonde, en bekering (vgl. 2 Kor. 7:10). Onder die oortuiging van die Heilige Gees sal ons van ons sonde af wegvlug en Christus as Verlosser aanneem.

Die feit dat die term “bekering” nie dikwels deur Paulus gebruik word nie, kan toegeskryf word aan die voorkeur wat hy verleen aan ander begrippe waardeur die betekenis van bekering (om van jou sonde af na Christus toe om te draai) nog beter uitgedruk word. Hy verwys dikwels na ons plig om sonde af te lê en ons met die Goddelike natuur van Christus te beklee: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:5-10; vgl. Ef. 4:22-24).

Ons roeping tot heiligmaking vereis dat ons sal voortgaan om onsself te ondersoek en alle sonde en vleeslikheid af te lê. Ons moet dus aanhou om ons te bekeer van sondes waarvan die Heilige Gees ons oortuig: “Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. ... Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:12, 14; vgl. Ef. 5:11).

Sonde is ʼn vernietiger van geloof en moet nie toegelaat word om sy verwoestingswerk in ons lewe te doen nie. Aan Joodse gelowiges, van wie baie geestelik teruggeval het weens kompromie met sonde, het Paulus geskryf: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ʼn bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:12-14). Ons moet volhard op die pad van geloof, heiligheid en toewyding aan die Here met ʼn rein hart wat deur die liefde van Christus vervul is.

Om jou sensitiwiteit vir sonde te verloor, daarvoor plek te maak in jou lewe en jou doelbewus aan die oorheersing en slawerny daarvan oor te gee, is ʼn resep vir geestelike rampspoed. Leef ʼn heilige lewe en staan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het. Die Bybelse weg van vryheid van die intimiderende mag van sonde is om sodanig met die kruis van Christus te identifiseer dat jy sal sterf vir die sonde, die vlees en die wêreld: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God” (Rom. 6:11-13).

Hou aan om jou te bekeer en deur die Gees gelei te word

Die groot betekenis van bekering toe jy jou geloof in Christus gestel het as Verlosser, moet nooit vergeet word en sy betekenis verloor nie, omdat jy geroep word om vir die res van jou lewe aan te hou om oor sonde en versoekings te oorwin. Die Heilige Gees is bereid om jou te bemagtig om meer as ʼn oorwinnaar te wees deur Jesus Christus, en Hy sal jou ook in die hele waarheid lei indien jy ten volle aan Hom oorgegee is. As jy aanhou om in die lig te wandel soos Christus in die lig is, sal jy deur die Heilige Gees sy teenwoordigheid ononderbroke ervaar, en sy bloed sal jou voortdurend van alle sonde reinig (1 Joh. 1:7).

Slegs dié gelowiges wat die slagoffers is van hoogmoed, liefde vir geld, of enige ander vleeslike begeerlikhede, neig daartoe om hulleself te verhoog – selfs bokant die waarhede van God se Woord – en word sodoende maklike teikens vir die gees van dwaling wat daarop ingestel is om Christene te mislei. In hulle vleeslike arrogansie veroordeel hierdie misleides ander gelowiges wat dit waag om te verskil van hulle uitleg van die Woord. Een van die algemene dwalings van ons tyd is dat sondes en vleeslike gesindhede in Christene se lewens oor die hoof gesien en verskoon word, solank hulle net aanhou om te “glo”. Daar word dus nie meer sterk op voortgesette bekering aangedring nie.

Christus het egter na die aarde gekom om sy volk van hulle sondes te verlos (vgl. Matt. 1:21). Dit is noodsaaklik dat ons van alle sondes gereinig en dat die krag daarvan in ons lewens verbreek sal word. Paulus kyk terug na die sondige verlede van die gelowiges in Korinte, en bevestig dat hulle hul bekeer het en deeglik van al hierdie sondes gereinig is: “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor. 6:9-11). Jesus Christus het nie net aan die kruis gesterf om sondaars van die ewige straf oor die sonde te verlos nie, maar ook van die mag van spesifieke sondes in die lewens van sy volgelinge. Hy het gekom om ons vry te maak. As ons sy genade tot redding en heiligmaking ten volle aanneem, sal die sonde nie oor ons heers nie. Indien die vlees in ons lewens onttroon en gekruisig is, sal die Heilige Gees ons in die hele waarheid lei en ook aan ons die regte insig in Bybelse leerstellings verleen (vgl. Joh. 16:13).

Dit is die enigste Bybelse manier waarop ware eenheid en eensgesindheid onder gelowiges geskep kan word: ons moet ten volle in die liefde en waarheid van Christus bevestig wees. Paulus het die gelowiges in Filíppi aangemoedig om hierdie ideaal na te streef: “Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus ... dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” (Fil. 1:27).